Prof Johan Buitendag, gewese dekaan van die Fakulteit van Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria, en vooraanstaande kenner van die teologie oor ekologie, is die wenner van dié toekenning. Buitendag het baanbrekerswerk verrig toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat ’n doktorsproefskrif oor teologie en ekologie geskryf het. Hy is die outeur of mede-outeur van 38 artikels oor skepping en ekologie in erkende vakwetenskaplike tydskrifte, en het 10 hoofstukke in internasionaal-erkende boeke oor ekologie geskryf. Buitendag lewer ’n beduidende bydrae tot ’n omvattende teologiese benadering tot die ekologie wat ook beskryf kan word as “’n hermeneutiek van ekologiese verantwoordbaarheid teenoor die Skepper en die skepping”.