ANDREW MURRAYPRYS VIR TEOLOGIESE BOEKE IN AFRIKAANS
Die wenner is Martin Laubscher vir sy boek “Publieke teologie as profetiese teologie?” Die beoordelaars verklaar dat hierdie werk ’n baie deeglike stuk teologiese navorsing bevat. Laubscher behandel die verhouding tussen publieke teologie en profetiese teologie en doen dit in samehang met die teologie van Karl Barth. Laubscher het die vermoë om sy gedagtes helder en duidelik te formuleer en sy gedagtegang koersvas te hou. “Die werk is teologies kreatief en ’n besondere bydrae tot ons denke oor profesie. Dit is ’n oorspronklike bydrae en vir die Afrikaanse teologie van groot waarde”.
Die beoordelaars was ds Hans Linde, dr Annette Potgieter en dr Tom Smith. Die uitgewer is African Sun Media.
DIE ANDREW MURRAY-DESMOND TUTUPRYS VIR ALGEMENE CHRISTELIKE PUBLIKASIES IN ‘N AMPTELIKE TAAL VAN SUID-AFRIKA
Retief Muller se boek, “The Scots Afrikaners: Identity Politics and Intertwined Religious Cultures”, is vanjaar se wenner van hierdie prys. Volgens die beoordelaars fokus die boek op die Skotse sending en die invloed daarvan op die NG Kerk. “Sowel die Skotte as die Afrikaners is gewortel in die Gereformeerde geloof en het ’n gemeenskaplike teologiese erfenis. Die skrywer ontgin hierdie verhouding aan die hand van oorspronklike bronne. ’n Uitstekende publikasie!”
Die beoordelaars was dr Charlotte Sibanyoni, prof Graham Duncan en prof Hannes Knoetze. Die boek is uitgegee deur Edinburgh University Press.
DIE DESMOND TUTU-GERRITT BRANDPRYS VIR DEBUUTWERK IN ’N AMPTELIKE TAAL VAN SUID-AFRIKA
Die jeugroman van An-Mari do Carmo, “Toe als nog groen was”, is as die wenner van hierdie prys aangewys. Die beoordelaars sê dis die soort boek wat jy nie kan neersit as jy dit eers begin lees het nie. “Hierdie verhaal, gebaseer op die KwaSizabantu Sending, hanteer op ’n besondere wyse die teologiese kwessies wat jongmense pla en daar word op ’n subtiele manier gewys hoe ’n alternatiewe verstaan van geloof kan lyk. Hierdie is sonder twyfel ’n briljante – en dapper – debuutroman, ontroerend en hoopvol. Dis ’n jeugroman wat lesers van alle ouderdomme sal aanraak.”
Beoordelaars: dr Doret Niemandt, dr Shearl Davis en dr Marnus Havenga. Uitgewer: LUCA.
DIE ANDREW MURRAY-FAK-TOEKENNING VIR CHRISTELIKE MUSIEK
Johan Vorster se “Kerslied” ontvang hierdie toekenning. kykNET wou met hulle Kersfeesblyspel 2022 opnuut terugkeer na die Bybelverhaal oor Jesus Christus se geboorte. Die blyspel sluit af met ’n lied deur een van die mees gerekende Afrikaanse liedjieskrywers, Johan Vorster. Hy het met min tyd tot sy beskikking ’n pragtige lied geskryf wat op gesinne fokus – ’n boodskap oor saamwees en hoop. Die Andrew Murray-FAK-toekenning gee erkenning aan dié eietydse Kersliedkomponis.
DIE CLF-ELISE TEMPELHOFF-TOEKENNING VIR OMGEWINGSBEWARING EN -GEREGTIGHEID
Prof Johan Buitendag, gewese dekaan van die Fakulteit van Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria, en vooraanstaande kenner van die teologie oor ekologie, is die wenner van dié toekenning. Buitendag het baanbrekerswerk verrig toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat ’n doktorsproefskrif oor teologie en ekologie geskryf het. Hy is die outeur of mede-outeur van 38 artikels oor skepping en ekologie in erkende vakwetenskaplike tydskrifte, en het 10 hoofstukke in internasionaal-erkende boeke oor ekologie geskryf. Buitendag lewer ’n beduidende bydrae tot ’n omvattende teologiese benadering tot die ekologie wat ook beskryf kan word as “’n hermeneutiek van ekologiese verantwoordbaarheid teenoor die Skepper en die skepping”.
DIE CLF-ELISE TEMPELHOFF-TOEKENNING VIR OMGEWINGSBEWARING EN -GEREGTIGHEID
Prof Johan Buitendag, gewese dekaan van die Fakulteit van Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria, en vooraanstaande kenner van die teologie oor ekologie, is die wenner van dié toekenning. Buitendag het baanbrekerswerk verrig toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat ’n doktorsproefskrif oor teologie en ekologie geskryf het. Hy is die outeur of mede-outeur van 38 artikels oor skepping en ekologie in erkende vakwetenskaplike tydskrifte, en het 10 hoofstukke in internasionaal-erkende boeke oor ekologie geskryf. Buitendag lewer ’n beduidende bydrae tot ’n omvattende teologiese benadering tot die ekologie wat ook beskryf kan word as “’n hermeneutiek van ekologiese verantwoordbaarheid teenoor die Skepper en die skepping”.
DIE JAAP DURAND-DENISE ACKERMANN-TOEKENNING VIR EENHEID, VERSOENING EN GEREGTIGHEID
Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap-sentrum, is die wenner van hierdie toekenning. Sy is ’n boorling van Wellington en het op 3 maande polio opgedoen wat haar met ’n verswakte been gelaat het. Sy was jare lank regstreeks by jeugontwikkeling betrokke en het in 2014 saam met Karen Smit die Women’s Achievement Network for Disability begin. Sy het in die Londen-Olimpiese Komitee en Kunsteraad gedien om kunste-projekte te kies vir die Londense Olimpiese en Paralimpiese Spele van 2012. Le Roux het van die Duitse regering die Duits-Afrika-prys vir haar werk in agtergestelde gemeenskappe ontvang, en ook eredoktorsgrade van die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie en die Universiteit Stellenbosch. Marlene le Roux het van die Kunstekaap ’n sentrum vir alle gemeenskappe en alle kunste gemaak en strewe op elke terrein waar sy beweeg na eenheid, versoening en geregtigheid.
Die oorhandigingsfunksie van die pryse en toekennings vind op 26 Mei in die Desmond Tutu-sentrum, Kaapstad, plaas.